Williempie se Wenners vir September-maand!
Na die ongelukkige ontmoeting van my kriketbal en die bure se voorportaal-venster, het Pa my gehok – totdat ek DERTIG jaar oud is! Aai, en dit is nou veral erg om die hele Septembervakansie by die huis opgeskeep te sit … Maar soos Ouma weet, het ek altyd ‘n plan! Ek het besluit ek gaan uitbreek en vir Ouma-hulle in Bloemies kom kuier.
Ek het al met die tonnel begin – maar so vêr het ek net tot onderkant die mat van my kamer gekom (matte is heelvat moeiliker om deur te grawe as wat mens sou dink!) Toe besef ek dat ek navorsingsmateriaal nodig het. Ek het vir Tannie Phillipa by RED PEPPER BOOKS geraadpleeg – en sy het sommer onmiddelik vir my die nuutste in kinder-en-jeugboeke aangestuur. (Hiermee onderaan aangeheg.)
Hierdie missie behels ‘n ekspedisie van enorme proporsies – so Bessie Hemelbesem en die Ekspedisie na Daërdoer is noodsaaklik (ek weet nie of daërdoer verder of nader is van Johannesburg tot Bloemfontein toe nie – maar as Bessie, wat ‘n MEISIE is, dit kan regkry, dan kan ek ook!)
In Mnr. Humperdinck Se Wonderlike Watsenaam gebruik Pete Smith vlieënde vullisblikke om in te ontsnap. (Maar Ouma moenie worrie nie – ek sal dat Klein Jan eers ‘n paar toetsvluggies van die dak af bemeester in ons eie vullisblik – en ek weet wat Ouma gaan sê oor veiligheid – ek sal seker maak dat hy dit eers oordentlik uitwas!)
En ‘n mens weet nooit wat daar buite ronddwaal nie, so kry asseblief Virus sodat ek weet wat om te doen as ‘n paar bose mense wat lyk soos ons bure my wil verskeur. En ingeval ek ‘n bietjie te vêr grawe en by die strand uitkom, kry asseblief ook vir my die feiteboekie oor Walvisse en Dolfyne.
En om my besig te hou totdat my tonnel klaar is – het ek ook Blokraaisels vir Aapsterte nodig asseblief. Pa kla gedurig as ek hom help deur om sy blokraaisels vir hom in te vul.Ek dink dis al wat ek nodig het, maar kan ouma asseblief die volgende vir Pietersielie, Klein Jan en Ousus aankoop:
Lili se Boekklub – waarin sy ‘n geheime boek ontdek wat haar lei na ‘n geheime deurtjie. (Ouma weet hoe lank ek al wens dat ousus ‘n gehuime deur sal vind en in ‘n ander wêreld stilletjies verdwyn!) Ag shame, kry sommer maar ook vir haar Roset – boek 8 van die Staalmaats-reeks – sy is so mal oor hierdie reeks – dan sal sy haar neus in ‘n boek hê – en nie die ontploffings hoor as ek met die dinamietfase van hierdie missie begin nie.
In n’ huis, in ‘n huis vir Piersielie. (Dit lyk soos ‘n wonderlike muisavontuur!) Ek het gedink hy is ‘n goner nadat ek sy hamsterwiel geelektrifiseer het, maar hy net vir ‘n dag of so in sy hok gelê – en toe hol hy weer rond. Ek sweer hy is nie dieselfde muis nie, want hy is nou ‘n paar skakerings ligter, maar ma se dit kan gebeur as ‘n hamster homself wit geskrik het.
Thomas @ Geraamte.net om vir bangkat Klein Jan te help om sy vrees vir die donker te oorkom. (Ek dink daardie Halloween geraamte wat ek in sy hangkas gehang het ook die hele proses sal bespoedig.)
Dankie Ouma. Wens my sterkte toe, en ek hoop ouma bak solank TONNE koekies …
Baie liefde
Jou wille Willempie
Kliek hier om na al ons nuwe kinderboeke op ons webwerf te lees …

